Get Adobe Flash player

 Pamflet kan hier afgelaai word | Pamphlet can be downloaded Here John Wahl: Operasie Savannah PDF 

John Wahl: Operasie Savannah 1975-1976

 

Korporaal John Wahl.  Vergete en onbekende held van Operasie Savannah

John Wahl as n jong Pantser soldaat (Circa 1976)

Deur Gerrie Hugo en Leon Bezuidenhout

23 Februarie 2015

Met ‘n  Staatsgreep en die sogenaamde “Carnation Revolution” op 25 April 1975, sou die einde van Portuguese kolonialisme spoedig tot ‘n einde knars.  Maar in ‘n ryk land soos Angola, sou dit nie ‘n maklike proses wees nie.  Die strategiese ligging van   Angola en die belange van die groot rolspelers in die Koue Oorlog, sou dit onafwenbaar tot die botsing van ideologie lei.  Reeds binne  Angola was daar drie  bevrydingsbewegings doening.  Elkeen met sy buitlenande venote.  Die MPLA was direk uit Moskou en Havanna befonds en bewapen.  Ook heelwat Afrikalande, reeds onder Kommunistiese invloed het die MPLA gesteun.  Daarteenoor het die Amerikanse CIA in die geheim die FNLA en Unita gesteun.  Zaire (huidige Kongo was ‘n pro-FNLA ondersteuner).

Die Suid Afrikaners met ‘n belang in Suidwes Afrika(Namibië) , sou altyd ‘n pro-westerse regering in Luanda steun.  Hulle geld was, soos die Amerikaners, op die FNLA.  Dit was egter nie lank of die drie Angolese groepe het onderling begin veg nie.  Die onstabiliteit het geleenthede geskep vir die buiteland om betrokke te raak.  Die Portuguese, sou deur individue en groepe altyd betrokke wees.  Hier was baie op die spel.

Dit was vroeg reeds duidelik dat hier baie bloed sou vloei, en dat die buiteland op ‘n al groter wordende skaal betrokke sou wees.  Reeds in 1973 het die Suid  Afrikaanse Weermag  die hele Suid-Angola verken vir water en ander strategiese punte .  Teen middel 1975 was dit duidelik ook vir die Suid Afrikaners, dat sou hulle ‘n simpatieke  regering in Luanda wou hê, hulle sou moes help.  Maar alleen was hulle nie bereid om betrokke te raak nie.

 

Maar die Suid Afrikaners het goeie verhoudings met die Amerikaners gehad.  Die Hoof van die SAW, Genl. Malan was ‘n opgeleide Amerikaanse Offisier.  So ook was Pik Botha die Suid Afrikaanse Ambassadeer in die VVO op goeie voet met die Amerikaners.  Daarteenoor was die Republikeinse Regering in Amerika (soos die res van die VSA) taamlik keelvol vir oorlog.  Hulle was oppad uit Vietnam, en so lank iemand anders hulle oorlog vir hulle sou baklei was alles in orde.  Maar self wou hulle nie betrokke  raak nie.  Dit is hier waar die Suid Afrikaners half onwillig betrokke geraak het.  Die Suid Afrikaners was vurig anti-kommunisties, en wou ten alle koste die kommuniste van die Namibië weg hou.  Daar teenoor kon die Amerikaners, die kommunisme ‘n knou toe dien, sonder om openlik met die Apartheidsregering te verbind.

 Die Amerikaners sou die geld voorsien, en die Suid Afrikaners sou die bloed op die hande kry.  Maar die plan sou nie heeltemal so uitwerk nie.  ‘n Nuwe Amerikaanse Regering en ‘n keelvol Amerikaanse publiek, te same met ‘n kommunisties imperialistiese  Kuba,  sou die kaarte deurmekaar krap.  Die tafel was gedek vir ‘n Afrika  oorlog wat nie gesien is sedert die Tweede Wereld oorlog.  V an oral sou daar betrokkenehid wees.

Die Suid Afrikaanse  operasie sou heet “Operasie Savannah”.  Die Operasie was beplan om die FNLA aan bewind te kry en die MPLA en hulle kommunistiese venote uit Angola te gooi. Die Operasie sou reeds in Julie 1975 begin, maar dit sou vining ontwikkel tot ‘n volskaalse geheime oorlog.  Die klimaks van die Operasie sou einde 1975 tot Februarie 1976 wees.


Geklee in groen tronkuniforms.  Die vergete soldate van Operasie Savannah

 Aanvanklik was hierdie geheime  operasie slegs beplan vir n baie beperkte periode. Die het egter vining verander en die aksies was verleng tot in 1976,  toe die geskeduleerde verkiesing en vredes onderhandelinge, tussen die strydende partye in Angola, gefaal het.

Die getal Suid Afrikaanse soldate  wat aan Savannah deelgeneem het word as oor die 2600 genoem maar, dit is misleidend omdat die getal,  al die ondersteunings elemente sowel as die Burgermag, wat tydens die laaste fases ontplooi was, om te onttrekking van magte te dek, insluit. Hierdie elemente het nooit die skerpkant van aksies ervaar nie.

Die kern van die vegtende elemente was die Nasionale Dienspligtes  van die tydperk en hulle het hul uitstekend van hul taak gekwyt. Nie weens hulle leiers maar, ten spyte van.

Hierdie jongmanne  is van hulle identiteit en trots beroof. Hulle moes vorms teken om die SAW en politici van die dag,  te verontskuldig m.a.w hulle het nie as SA Weermagtroepe  bestaan nie. Op daardie stadium was die meerderheid nog te jonk om sodanige vorm of onderneming te teken maar, dit het nie die SAW gestop nie.  In effek is hulle deur hul eie weermag tot huursoldaat status gedemoveer en hul kon niks verwag t.o.v die Geneefse  Konvensie nie. 


Vreemde uniforms, vreemde staaldakke en vreemde wapens- en die SAW het hulle hulle self laat uitdiens teken.  Nou was hulle net ‘n nommer. Suid Afrikaanse huursoldate van die SAW.

Hierdie aksie van die SAW en die Suid Afrikaanse  politici bly steeds ’n raaisel.  Het hulle regtig gedink hulle gaan met 1500 vegtendes  Angola verower? Het hulle gedink daar gaan nie ongevalle wees of dat Suid Afrikaners dalk gevang kan  word nie?  Het hulle regtig gedink die operasie sal ’n geheim bly?  Vir 40 jaar was die dokumente geheim, maar vir die wat daar was, was die herinnerings en ervarings, was dit nooit so nie.  Dit was altyd ’n werklikheid en meestal ’n nagmerrie.

 

Dit bly steeds een van die grootste dade van verraad as ’n weermag sy eie troep ontken.  Dit is presies wat hier gebeur het.  Uitgereik met groen uniforms (slegs een stel) soos wat in die Suid Afrikaanse tronke deur gevangenes gedra is,  Bata tekkies, met slegs n boeknommer as identiteit en sonder persoonlike wapens,  is hulle ingevlieg na Sentraal Angola.


Groen gevangene uniforms met "liberated" motorfietse

Daar het hulle in die duister begin baklei en hulself uitmuntend van hul taak gekwyt. Hulle was die meerderheid van die tyd oningelig gehou deur hulle leiers,  en was nie eens bewus van ander  flank eenhede en formasies nie. Heelwaarskynlik het die leiers gedink dat hoe minder hulle weet, hoe minder hulle kan verklap indien hulle gevange geneem word.  Iets wat n werklikheid was en dan ook gebeur het.  In een geval het ’n jong Suid Afrikaanse troep Fred van Loggerenberg,  as ’n daad van wanhoop,  sy Afrikaanse sakbybeltjie gevat en sonder dat hy ’n pen gehad het, ’n stuk houtskool uit die as gehaal, en die datum en plek neergeskryf.  Sy hoop was dat, indien hy sou sneuwel, iemand die bybeltjie aan sy ouers sal gee, dat hulle kan sien waar hy was.


Fred van Loggerenberg se sakbybeltjie, met houtskool inskrywing

Dat die Suid Afrikaanse besluitnemers ’n fragante fout gemaak het, was gou duidelik.  Hulle troepe  is 18 maande vroeer opgeroep, en in sekere gevalle na minder as 5 maande se opleiding ontplooi. Verder is hulle opgelei  in  teen insurgensie oorlog voering.  Skielik was hierdie jong troepe betrokke in hewige gevegte met tenks en ander pantser.  Die Suid Afrikaanse  Artillerie was totaal uit ’n ander era.  Van hulle geskut was nog Tweede Wereld Oorlog 25 Ponder kanonne.   Hulle moes veg teen ’n vyand wat beter toegerus was as hulle met  oorskot toeristing.  Teen die ”Stalin Orrel” ”Rooioog” vuurpyl lanseerders was die Suid Afrikaners weerloos.  So ook teen die artillerie.  So geraak was die Suid Afrikaners dat hulle hierna terug is, en die beste van albei in die wereld ontwerp en gebou het.  Maar dit was nou nodig en hulle het dit nie gehad nie.


'n Eland 90 steek 'n tydelike brug iewers in Angola oor

 

Ook was die Suid Afrikaanse inligting gebrekkig.  So is Ebo aangeval sonder dat die Suid Afrikaanse offisiere ’n idee gehad het wat in en agter die dorp gebeur het.

Sommige dienspligtiges  se uitklaar datum was met die strook van n pen verleng met drie maande.


Na die oneffektiewe Tweede Wereld Oorlog 25 Ponders vervang is met 140mm kanonne, het dit beter gegaan

Sommiges was met hulle terugkeer by hul eenhede onder gewapende wag geplaas,  sodat hulle nie met die nuwe inname of ander personeel wie nie by Savannah betrokke was, kon meng of informasie deel nie.

Nooit was daar n parade gehou nie. Meerderheid het nooit hulle Pro Patria met Cunene gespe ontvang nie. Daar was geen ontlonting nie en in effek is hulle uit hulle eenhede uitgeboender en die SAW het hulle hande afgestof. Sommiges was nie eers betaal vir hulle operasionel diensperiode nie.

Die gevegte was hewig. Soms moes hulle sonder kos klaarkom en het bykans almal ontwater weens diarrhoea as gevolg van rantsoenblikke wat jare verby hulle rak-en-vervaldatum was. Soms moes hulle sonder die korrekte ammunisie klaarkom,  maar hulle het nie ophou om te verstom nie.

Daar was wel goeie Staandemag leiers maar, hulle was die uitsondering eerder as die reel. Hiermee dan my ode aan die dienspligtes van toendertyd asook een uitsonderlike Staandemag lid, Korporaal John Wahl.

Hy het as jong korporaal na sy troepe omgesien, hulle kos laat kry, hulle moraal opgebou en selfs hulle van gewisse dood gered. Hy het ook almal van sy troep lewendig terug gebring. Vir sy doods veragtende aksies het hy nooit erkenning gekry nie, nie eens n handdruk om dankie te se nie.


John Wahl, voor links met sy troep nadat hulle uit Angola onttrek is.  Nkurukuru 1976

Goddank vir sosiale media wat nou poog om hierdie onreg aan te spreek. Maar dit moet genoem word dat die leiers van daardie dae baie traag is om betrokke te raak.

John Wahl het tydens Op Savannah oor die periode Sep 1975 tot Des 1975 tydens drie uitstaande insidente (daar was meer) bewys dat hy n man van staal is. Die aksies kan slegs as doodsveragtend beskryf word en hy is nooit gedekoreer nie.  Die SAW en ons leiers van daardie dae behoort hulle koppe in skaamte te laat hang.

Kortliks sien hierdie insidente soos volg:

·         n Reddingspoging van gestrande Tegniese  Diens Korps personeel (tiffies) gedurende die nag naby a plekkie met die naam  Roberto Williams- tussen Silva Porto en Lobito.  Hierdie het ten aanskoue van n aanmarsende vyand geskied. Sy troepleier was nie saam nie. Hy het met twee voertuie van sy troep die personeel gaan afhaal en na veiligheid by Alto Hama gebring.

·         Sy aksies in die primere doodsakker van die vyand by Ebo. Hy het vir die durasie van die geveg homself in die doodsakker bevind,  en op twee verskeie geleenthede persone vanuit die doodsakker gered, afgevoer en terug gekeer. Hy het ook dekkingvuur vir twee ander reddingsaksies gelewer.  Die aand na die aksie moes sy masjien geweer se loop vervang word.  Hy was totaal uitgeskiet en onbruikbaar.  Ander het met die lof weg gestap en dekorasies ontvang.  John Wahl wat in die hitte van die stryd die koeels en bomme moes trotseer,   het absoluut niks ontvang.  Offisiere wat tussen 1 en 2 kilometer terug was het dekorasies vir  dapperheid ontvang.

·         Sy eiehandige redding van n genie Offisier vanuit n mynveld vroeg op 29 November  1975.  Die offisier het onwetend the mynveld betree en het sy been in die ontploffing verloor.  Hy was in erge pyn en besig om dood te bloei.  John het, sonder om aan sy persoonlike veiligheid te dink, die mynveld ingestap en die offisier se lewe  gered.

 

Al hierdie aksies is deur oog getuies en rekords oor en oor bevestig.

Dawid Lotter het n gedig oor John Wahl geskryf. Hy beskryf  John Wahl se aksies soos volg:

My gedig Landmynkraters, is gebasseer op die ware ondervinding van  John Wahl , n Pantser troep sersant in Operasie Savannah, tydens die bosoorlog 1975.

Hierdie gedig “Mynkraters” het ek gedig na aanleiding van n spesifieke incident waar hy n Genie offisier wat sy been verloor het in n mynveld gaan bystaan het. Beide het oorleef. Maar beide het wonde oorgehou. Die Genie offisier sonder n ledemaat, John met die wroeginge van oorlog wat hom tot vandag, April maand 2014 nog bybly.

John is een van n hele aantal soldate uit Operasie Savannah, wat vir helde dade soos die en ander opgetekende heldedade , geen erkenning gekry het nie.

Hy som sy gevoelens oor die dag in die mynveld as volg op. :”” dit was die aleenste wat ek in my lewe nog was. Doer ver sit my mense en wag. In die middel van die ooptekie,  ek. Dan dink mens diep. En wonder oor baie dinge. My hoofgedagte was, wat  het ek nou gedoen, en wat soek ek hier. En ek was lus vir koffie.

Met hierdie gedig salueer ek John Wahl en ander soos hy wat alles gegee het, en tot vandag toe nog geen erkenning ontvang het nie.

 

Landmynkraters

Operasie Savannah was die begin van die konvensionele deel van die

Bosoorlog vir Suid Afrika. In ʼn baie kort paar maande het een van

die laaste koloniale Afrika moonthede onttrek, en hul kolonies aan

hul eie lot oorgelaat. Die desperate blanke Portugese koloniste na

500 jaar, het alles net so gelos en vir hulle lewens gevlug. Dit was

die einde vir Portugese Angola en die begin van Kubaanse Angola.

Suid Afrika, met verouderde wapentuig het kommunisme die stryd

aangesê. Hierdie gedig is gebaseer op die werklike ondervinding van

John Wahl tydens Operasie Savannah.

 

ʼn Landmyn wat ontplof

Die slag was ver en dof

Toe ons die kruispad bereik

Kort duskant Ebo suid

 

Twee Elande het vorentoe beweeg

En vir myne oor die pad geveeg

Net ʼn makker langs die pad gevind

Met intense trane wat sy oë verblind

 

Snikkend het hy ons gerig

Na waar sy offisier binne sig

Lê in ʼn mynveld vasgevang

Sonder voet - bloeiend en bang

 

Ek - met Merthiolate en verbande

ʼn Soeksteek stok en kaal hande

Deur die mynveld sonder versuim

Omseilend - kruipend - duim vir duim

 

Langs ʼn stewel sonder sool

Met sy hand uitreikend

En sy oë pleitend

Het hy gevra vir my pistool

 

Sy hand het ek ferm weggedruk

In die gapende wonde stuk vir stuk

Die sproeiende are afgebind

Die res met bomverbande toegebind

 

Twee ure moes ons wag

Hom onderskraag met al my krag

Dat sy hoop hom nie moet faal

Voor die Puma hom kom haal

 

Twee allenige mense

Vasgevang in eng grense

Van hoop en wanhoop

Saam in een emosie vasgeknoop

 

Saam het ons gewroeg deur die pyn

Saam geworstel deur die venyn

Oor oorlog en die doel

Heftig – met ʼn wrang gevoel

 

En later verstard gewonder

Oor niks meer in besonder

Vanaf suid - twee ure later

Het die Puma ons genader

 

Hande en toue wat red

Alles in ʼn warrelwind omskep

En my agtergelaat met ʼn kilte

En die voelbare stilte

 

Vandaar is ek oneindig tam

Van boomstam tot boomstam

Elke tree versigtig - sag -

Terug na waar die Elande wag

 

Ek het later teen sononder

My van die groep afgesonder

 

Ek wou ween

Stoksielalleen

Maar ek kon nie!

 

Ek wou uitskree

Met elke tree

Maar ek kon nie!

 

Afgestomp

 

Ontlont

 

Het die snik in my menswees

Deel geword van my gees?

****

Ek kan net vermeld

Myself sien ek nie as held

Daardie dag in die mynveld

Was ek ongeskonde van vlees

Met landmyn kraters op my gees

 

Dawid Lotter se digbundel kan bestel word by lotterdh@gmail.com

Hierdie oorlogs gedigte is n moet lees vir almal wie in die bosoorlog betrokke was asook hulle families en vriende.


Eland 90's sou die Suid Afrikaanse speerpunt moes wees.  Hierdie foto by Santa Comba in sentraal Angola

 

Gerrie Hugo, wie die kannonier in die Eskadron Tweede in bevel (2IB) voertuig was, gedurende Operasie Savannah,  beskryf John Wahl se aksies by Ebo op 23 Nov 1975 soos volg:

John Wahl het ons lewens gered. Nadat die 76 mm ons die eerste maal uitgeskiet, was ons so goed soos dood. Ons was gestrand in die doodsakker wat intens gedek was deur anti tenk wapens omrede ons gepoog het om makkers te gaan red wie reeds uitgeskiet was. Die volgende skoot van die 76 mm sou ons definitief geneutraliseer het. Ons hoofwapen was buite aksie omrede ons op die tromprem getref was. John was egter reeds in n goeie vuursteun posisie en het met n koelkop die 76mm uitgeskiet. Die het ons die kans gegee om stadig onder hewige, RPG sowel as kleigeweer en 122 mm, vuur te onttrek.

John Wahl het die res van die geveg, aksies in die doodsakker geloods. Die het etlike ure geduur. Hy het verskeie male anti tenk wapens geneutraliseer en op twee geleenthede ingegaan om makkers van n gewisse dood te red. So het hy vir Kpl Gert Botha met die eerste ingaan tot veiligheid gebring.

Met die tweede ingaan slag het hy vir Giel Visser gered. Hierdie keer het hy sonder sy kannonier ingegaan om plek te maak vir Giel in sy Eland 90. Hy was dus vir alle doeindes onbewapen met die poging.


Van die 13 Suid Afrikaanse panserkarre wat by Ebo in is, sou slegs 5 op eie stoom uitkom. Die wrak van een van die wat agtergebly het 40 jaat later by Ebo

 

John en sy bemanning was die laaste diensbare voertuig om die doodsakker by Ebo te verlaat. Hy moes die aand na die geveg sy Browning masjien geweer loop weggooi weens die groot hoeveelheid rondtes wat hy deur die dag gevuur het.

Ons totale verliese op die dag (en dit sluit UNITA asook FNLA in) is nie akkuraat bekend nie maar, strek tot in die sewentigs.

n Groep Savannah veterane is in die proses om hierdie geskiedenis reg te boekstaaf omrede vorige geskiedskrywers die feite inkorrek weergee het.

Dit was n eer en voorreg om saam met John te kon dien. Ek is werklik trots om hom n vriend te kan noem.

Ek weet nie van n meer dapper persoon as John Wahl nie en ons skuld hom ons lewens. Hy het niks verder om te bewys nie en verdien die hoogste dekorasie/s moontlik. Alle pogings om die reg te stel het tot op hede, egter gefaal. Hoofsaaklik deur gebrek aan belangstelling van die wie nog iets daaraan kan doen.

 

John Wahl, soldaat en boer

John Wahl is in Bloemfontein gebore. Hy was n Grey College skolier tot 1968. Daarna sluit hy by die Suid Afrikaanse Polisie aan en word in Natal gestasioneer. Vandaar doen hy verskeie kere diens in die Caprivi en in Rhodesia.

Na vyf  jaar in die polisiediens, sluit hy by die SAW aan in 1975. As lid van 1 SDB doen hy Deel 1 kursus te  Infanterie Skool en Pantserkar kursus te Pantserskool.

Gedurende September 1975, vertrek hy as troep sersant vir deelname in Operasie Savannah. Na Operasie Savannah vorder hy deur die range tot Adjudant offisier eerste klas, en word verskeie kere weer in die bosoorlog ontplooi vir grensdiens.. 

Hy verlaat die SAW in 1998 om te gaan boer.  Hy boer op sy plaas naby Upington in die Noord-Kaap.

40 Jaar later: ‘n Vereering

Sedert 2006 bied die Voortrekker Monument Draf en Stapklub jaarliks die Springbok Vasbyt 10/25km Vasbyt wedloop aan.  Die Klub is  amptelike  ASA  geregistreerde hardloop en stap klub, en onafhanklik van die Voortrekker Monument.  Alhoewel die Monument en die Klub nou saamwerk.  Die Springbok Vasbyt is die grootste “off road” hardloop wedloop in  Afrika.   Afriforum is die borg van die wedloop vir die afgelope vyf jaar.

Die Springbok Vasbyt het sy oorsprong in die erkenning van onbekende en onvereerde soldate. Sedert die eerste wedloop is ‘n reeks onbekende Suid  Afrikaanse  soldate vereer met die wedloop.  Die reels vir erkenning is eenvoudig.  Die persoon mag in rang  hoogstens ‘n kaptein wees, die persoon moet onbekend wees en laastens moet die persoon nooit amptelik vereer gewees het vir ‘n helde daad nie.

Dit was ‘n kwessie van tyd voor die soldate van Operasie Savannah vereer sou word op hierdie manier.  Die geval van John Wahl het dit maklik gemaak.  Hy het in alle opsigte aan die vereistes voldoen, en hy was bereid om die “gesig” van Operasie Savannah se veterane te wees.


Die 2015 medalje  is soos alle medaljes in vroeëre wedlope,  ‘n eenmalige medalje.  Dit is ‘n afbeelding van ‘n foto van John Wahl in 1976.  Dit het as agtergrond die sakbybel van Fred van  Loggerenberg.  Die pleknaam “Sela”, eintlik gespel “Cela”,  en datum is met houtskool in die bybeltjie geskryf.  Op daardie datum, 29 November 1975, het John Wahl ‘n gewonde offisier uit ‘n myngeld gered.  Laastens het die medalje die afbeelding van ‘n Eland 90 panserkar wat oor ‘n tydelike brug in Angola ry. 

Dit is ‘n eer om ‘n dapper en nederige man na 40 jaar te kon vereer.  Nie net kry John Wahl hiermee erkenning nie, maar al die jong manne wat aan Operasie Savannah deelgeneem het.  Sommige het met hulle lewens betaal, ander met hulle liggame, en meeste met ‘n letsel aan hulle jong gees. Ons vereer die die onbekende en vergete helde van Operasie Savannah, en die grootste  daarvan, John Wahl.

 

 

Kopiereg: Leon Bezuidenhout & Gerrie Hugo

23 Februarie 2015

Pretoria

leon@mboneni.co.za

 

 


Copyright © 2014. All Rights Reserved. Tekkie Races - Voortrekker Monument Draf en Stap klub