Get Adobe Flash player

            

MULLER POTGIETER-GEDENKWEDLOOP

Meer as 40 jaar ‘n tradisie

“Die son het vir hom ondergegaan toe dit nog dag was”

Die Muller Potgieter Gedenkwedloop is die eerste keer in 1969 aangebied en is sederdien ononderbroke 42 maal agtereenvolgens. Dit het nie net Pretoria (Noord Transvaal en later Atletiek Gauteng Noord) se langste ononderbroke aangebiede wedloop geword nie, maar ook ‘n belangrike mylpaal op die Suid Afrikaanse padwedloop kalender.

 

Hierdie kort oorsig bied ‘n kort beskrywing oor die man wat onthou word, met hierdie gedenkwedloop, maar na 40 jaar het die wedloop natuurlik ook sy eie geskiedenis.

 

Muller Potgieter- die man

 

Josef Muller Potgieter is in Reitz in die Vrystaat gebore in 1945. Nadat die familie na die ou Transvaal verhuis het, het hy sy hoerskoolloopbaan  by Middelburg Hoerskool voltooi waar die legendariese George Claassen (Comradeswenner van 1961 en vader van Springbok Wynand Claassen) die skoolhoof, en ook Muller se afrigter was. Na voltooiing van sy hoerskoolloopbaan in 1962, het Muller onderwys gaan studeer by die ou Normaal Kollege Pretoria (NKP) waar hy sy prestasies in veldwedlope en die atletiekbaan voortgesit het.

 

Nadat Muller klaar studeer het, is hy in 1966 as onderwyser in Ekonomiese Wetenskappe by  Middelburg Hoer, sy Alma Mater.  Hy was ook die skool se landloop- en atletiekafrigter. Op hierdie wyse het hy ook teruggeploeg in die sport waarvoor hy so lief was. George Claassen steeds skoolhoof, was steeds Muller se mentor en afrigter.

 

Hoewel Muller homself op skool onderskei het op die atletiekbaan, was dit veral op die gebied van landloop en marathons waar hy hom later onderskei het. Tydens Muller se eerste Comrades Marathon in 1967 behaal hy sewende plek. Die volgende jaar hardloop hy die paaie warm met onder andere sy vierde plek in die Comrades en eerste plekke met rekordtye in die 53 km Matopos en die Golden West marathons.

 

Hy het die 1969 seisoen sterk begin met sy wenplek in die Noord-Transvaal  marathonkampioenskappe en marathon geesdriftiges het hierdie jong atleet se vordering met groot belangstelling dop gehou.

 

Van die hoogtepunte in Muller se atletiek loopbaan was die vierde plek in die Comrades wat hy in 1968 behaal het, die eerste plek met ‘n rekordtyd in die moordende Matopos marathon in die destydse Rhodesie in dieselfde jaar en die eerste plek in die Noord-Transvaalse marathon kampioenskappe weke voor die tragiese motorongeluk. Die gebeurtenis was kort voor  die Comrades Marathon van 1969 waarin hy ‘n ernstige mededinger vir die voorste plekke sou wees.

 

Op 22 Maart 1969 was Muller en van die hoerskoolatlete wat hy afgerig het op pad terug vanaf Witrivier waar hulle aan ‘n Inter-Bond byeenkoms deelgeneem het. In ‘n tragiese fratsongeluk op ‘n kruising van die N4 met ‘n sekondere pad naby Middelburg, het Muller se motor met die bakkie van sy vader gebots en is Muller op slag gedood en sy moeder wie in die bakkie was, ses weke later. Sy heengaan op vier-en-twintig jarige ouderdom was gesien as ‘n groot slag vir Suid-Afrikaanse atletiek in die algemeen en vir Middelburg Hoerskool in besonder. Sy toewyding tot afrigting was weerspieel deur die feit dat vier van die ses seuns wat die destydse Oos-Transvaal in 1969  by die SA Landloop Kampioenskappe verteenwoordig het, leerlinge van sy skool was.

Muller het sy sport in die era van suiwer amateurskap beoefen waar toewyding die deurslag vir sukses gegee het en waar daar nog min sprake was van hoe tegnologie skoene en wetenskaplike voeding. ‘n  stel Bata tekkies moes dikwels maar die ding doen! Ten spyte van sy voltydse loopbaan het hy twee keer per dag geoefen. Sy wedloopstrategie was konserwatief deurdat hy eerder stadig begin het maar sterk geeindig het.

 

Die Noord-Transvaalse hardlopersgemeenskap het besluit om hierdie gewilde maar nederige jong onderwyser van Middelburg te vereer met die aanbied van ‘n jaarlikse gedenkwedloop. Met hierdie wedloop is ‘n ryke tradisie gevestig.

 

Die Muller Potgieter Gedenkwedloop- ‘n Tradisie

 

Die eerste Muller Potgieter Gedenkwedloop in 1969 was gehou vanaf die Hoerskool FH Odendaal op die ou Pienaarsrivier-Dam pad. In daardie tyd is die wedloop aangebied deur die Pretoria Atletiek Klub (PAK).Dit was ‘n 15 myler wat in vandag se terminologie

nagenoeg 24 kilometer was.   Gedurende Oktober 1973 is die Pretoria Marathon Klub gestig en het die PAK en PMK ooreengekom dat die padwedloop onder die vlerke van die Marathon Klub moet voortgaan.  George Claassen het ‘n belangrike rol gespeel in hierdie ooreenkoms. 

Die wedloop is ook hiermee verskuif na die Kameeldrift Skool, wes van Pretoria. Tussen 1974 en 1982 het die afstand tussen 23 en 26 kilometer gewissel en vanaf 1983 was dit 21.1 kilometer. In 1999 het dit ‘n 15km wedloop geword en in 2010 ‘n onortodokse 15,3 km.

 

Die 1974-76 wedlope het plaasgevind by die Kameeldrift Skool.  In daardie jare was “SA Runner” die toonaangewende bron van wedloop inligting.  In die 1977 weergawe was daar ‘n fout toe die wedloop se wegspringtyd verkeerdelik as 07:00 (soos die vorige jare was) aangegee is, en nie as 14:30, ‘n middag wedloop nie.  Een van die organiseerders Freddie Klein is vroeg die oggend na die skool om almal wat verkeerdelik vroeg opgedaag het huis toe te stuur,  en te vra dat hulle weer die middag moes terug kom.  Met sy aankoms by die skool het een van die skoolkomitee-lede daar opgedaag en aan hulle gese dat as daar anderkleuriges aan die wedloop sou deelneem die skool se fasiliteite nie langer beskikbaar is nie.  En daar sou beslis wees.  Sedert 1975 het anderkleuriges reeds aan die wedloop deelgeneem. Hy het in sy bussie gespring met sy drie kinders en na sy huis in Pretoria Tuine so 20km verder gejaag, om die ander PMK lede te gaan bel.  Oppad na sy huis het die bussie sonder petrol gaan staan! Met drie klein kindertjies,  het hy langs die Britspad duim gegooi.  Genadiglik het ‘n samaritaan stil gehou en hulle is opgelaai. 

 

By sy huis het hy naarstiglik aan die werk gespring.  In sy poging om die wedloop te red het hy selfs die minister van sport, Dr. Piet Koornhof gebel! Maar sonder sukses. Piet Promises het vroeër op ‘n byeenkoms van “Sportmanne vir Christus” belowe hy kan enige tyd en met enige sport probleem help. As blyk van eerlikheid het hy selfs sy huis telefoonnommer gegee! Dit was ‘n leë belofte.  Piet se seun was simpatiek maar die privaat sekretaris se antwoord was “wat se vermeteldheid het jy om die minister persoonlik te bel!”.  Klein het aan die sekretaris gesê hy moet vir sy baas sê om nie sulke uitnodigings te maak as hy nie daarby kan staan nie.  Toe was dit, sonder die minister, terug na “Plan-B”.

 

Teen 09:00 die oggend besluit George Claasen, Johan Schlebush en Freddie Klein om die Swartspruit Hotel daar naby te vra of hulle kon help.  Klein is afgevaardig vir die taak.  Die eienaar Len van Loggerenberg was hulle simpatiek gesind en enkele ure voor die wedloop begin is die wedloop nuut beplan en uitgelê.  Klein se bussie het nou petrol in gehad en hy het sommer met die afstandmeter die nuwe kilometer merke uitgelê.  Met enkele sekondes oor voor die wedloop begin het, het hy voor die kroeg gestop- dit is al waar daar nog parkering was.  Een van die deelnemers Casper Steyn, het salig onbewus van die drama, droogweg opgemerk “fokkit, hy reel die wedloop en hy kom nou eers hieraan!”  Die storie het later geloop van “’n geel Toyota Hi-Ace bussie voor die kroeg van die Swartspruit Hotel, met ligte aan en ‘n oop deur”.  Die drywer was nerens te vind nie.

 

Die wedloop was ‘n sukses en die storie van die 1977 Muller Potgieter Gedenkwedloop was die eerste artikel wat ooit in Afrikaans gepubliseer is in die “SA Runner”.  Die outeur was Johan Schlebush.  Die artikel was getiteld “Hulde aan die manne met die spring oë”.

 

Die 1977 Muller Potgieter is waarskynlik die enigste wedloop in die Suid Afrikaanse padhardloop geskiedenis wat by ‘n hotel begin en klaar gemaak het.  En in die 70’s was ‘n hotel nog ‘n hotel.  Nie met ‘n dameskroeg nie.  Een met ‘n toonbank van soliede hout waar slegs hardebaard manne toegelaat is.  Maar so was die hardlopers darem ook. Die legende vertel dat die laaste atleet wat deelgeneem het, uit die kroeg gegooi is toe die hotel in 1996 gesluit het.  Die1977 was die negende wedloop.

 

Die wedloop is vanaf 1978 by die nuwe Verkeerskollege by Kameeldrift aangebied.  Die wedloop sou vir die volgende aantal jare daar plaasvind totdat die nuwe Carousel Casino in 1988 die wedloop se eerste borg sou word.  Die 1988 wedloop sou baie kritiek kry, toe die nuwe borg die Muller Potgieter tema sou onderspeel.  Die uiteinde van die saak was dat die wedloop van klub verskuif het en na die kampus van die Techikon Pretoria in Pretoria Wes geskuif het.  Die kampus was in ‘n stil deel van Pretoria en die nuwe dele van Danvlle en Philp Nel Park uitgele maar onbeboud.  Dit was ideale padhardloop toestande. Stil strate naby die middestad. 

 

In 1999 het die afstand na 15 kilometer verander en in 2010 na 15.3km . Van die vroee wenners was legendes soos Willie Olivier, Frans le Grange en Andrew Greyling. Volgens die rekords wat ons kon opspoor was die eerste dameswedloop in 1975 aangebied. Van die vroee dameswenners was die bekende Ralie Smit.  Alhoewel die eerste anderkleuriges eers in 1976 amptelik aan die wedloop kon deelneem, het Petrus Kekana die eerste swart atleet geword wat die wedloop kon wen- in 1983.

 

Die Wedloop is aanvanklik aangebied deur PAK wat ook Muller se klub was. Kort na die stigting van die Pretoria Marathonklub in 1973, het hierdie klub die aanbieding van die Muller Potgieter oorgeneem. Dit is later deur die Pretoria Technicon Marathonklub aangebied en word sedert 2006 deur die Voortrekkermonument-atletiekklub aangebied en georganiseer.

 

Die wedloop is sedert sy ontstaan nooit met behulp van ‘n borgskap aangebied nie, Carousel het dit in 1988 verander.  Nadat die wedloop daar weg is, is daar eers weer in 1997 ‘n borgskap aangebied.  Gedurende 1997 het Quagga Sentrum in Pretoria Wes ‘n borgskap aangebied.  Die Technikon Pretoria marathon Klub het die aanbod aanvaar en sodoende het die wedloop se naam verander na die Quagga Sentrum Muller Potgieter Gedenkwedloop.  Die eerste wedloop by Quagga Sentrum is aanbgebied as ‘n 10/21 in Junie 1998.  In die daarop volgende jaar het die wedloop vernader na ‘n 15km wedloop.  Met die einde van 2006 was die Technikon Pretoria onder ‘n nuwe naam en die nuwe bestuur van die Tshwane Universiteit vir Technologie was die sportstruktuur van die ou “wit” Technikon vyandig gesind.  Alhoewel die Sport Buro uit hulle pad gegaan het om die Marathon Klub te akkomodeer, het die Marathon Klub ten einde ontbind.  Van die lede het ‘n nuwe klub by die Voortrekker Monument Terrein gestig (Voortrekker Monument Hardloop en Stap Klub) en met die TUT Sport Buro ooreengekom om die Ou Voetpad Berg 10 Myler en die Muller Potgieter Gedenkweloop oor te neem.  Quagga Sentrum het hulle borgskap voort gesit.

 

Die wedloop het oor sy hele bestaan feitlik net in Junie plaasgevind.  Dit was ‘n tipiese winterswedloop met ‘n kleinerige deelnemerstal- gewoonlik so tussen 600-750 deelnemers.  Die 15km wedloop 10 dae voor Comrades was ook ‘n ideale afsluitingswedloop vir die Comrades atlete.  Die skuif van die Comrades Marathon vroeer, na einde Mei, het ongelukkig ‘n daling in die inskrywingsgetalle gehad.  Met die druk van borge, en verkeer (die wedloop kruis Vom Hagenstraat) is uitendelik besluit om die wedloop na Desember te skuif.  Dit sou atlete vroeer van die pad af kry (die wedloop sou nie meer 07:00 begin nie maar 06:00), en hopelik sou die somersweer meer atlete uit die bed kry! Die eerste “somers” wedloop het in 2010 plaas gevind- maar natuurlik nie sonder sy probleme nie.  Op die Maandag voor die wedloop is die organiseerders ingelig dat die wedloop “’n veiligheids risiko” vir die Universiteit is en dat die wedloop nie langer oor die TUT kampus mag plaas vind nie. Met dringende gesprek voering het Inspekteur Cornel van der Walt van die Tshwane Metropolisie, toestemming gegee dat die wedloop roete verander kon word.  Die wedloop se roete is oplaas verander en sodoende is daar ‘n ekstra 300 meter by die wedloop ingevoeg.  Die wedloop se moeilikheidsgraad het skielik so graad of wat geklim!  Die 2010 wedloop is amptelik deur Pottie (Andries) Potgieter, die broer van wyle Muller Potgieter afgesit.  Die kort veranderde roete was ‘n sukses.  Alhoewel daar natuurlik ‘n paar klagtes was oor die ekstra paar opdraendes.

 

In die begin jare van die wedloop was daar nie medaljes uigegee nie.  Sakwapens was die inding.  Met een van die eerste sakwapens het die bekende beeldhouer Eben Germishuys ‘n son wat sak as ontwerp gebruik.   Hy het  Amos 8:9 gebruik.  “En in die dag, spreek die Here Here, laat ek die son op die middag ondergaan en vir die aarde die lig duister word terwyl dit nog dag is”. 

 

Vir Muller Potgieter het die son voorwaar onder gegaan terwyl dit nog dag was.  Mag hierdie wedloop bydrae tot sy herinnering.  Iemand het eens gese “Hoe lank ons lewe is nie wat saak maak nie, maar wel hoe”. 

 

 

Copyright © 2014. All Rights Reserved. Tekkie Races - Voortrekker Monument Draf en Stap klub